2010-3-3
Tieners vervang Fredericks
Oom Eddie Fredericks

Die jong Vrystater Glen Mafumo vervang oom Eddie Fredericks wanneer die Griffons Vrydagaand in Welkom teen die Griekwas te staan kom. Die 33-jarige Fredericks, wat drie drieë teen die Welwitchias gedruk het, is weens ‘n dyspierbesering nie beskikbaar nie.

Die Griffons het die tiener Grant Janke, wat verlede jaar op Gimnasium se skoolbanke was, ook op die bank vir die stryd teen die Poubloues gekies.

Die 33-jarige Fredericks is 12 jaar ouer as Mafumo, wat verlede jaar vir die Cheetahs se Onder 19’s gespeel het. Janke het maar vier maande gelede 19 jaar oud geword en is ‘n baba op dié vlak.

Die Griffons het ook ‘n flank/slot Donovan Ball uit Bloemfontein geleen om die reserwekrag aan te vul.

Mafumo se insluiting is die enigste verandering aan die agterlyn terwyl Marnes Briedenhann van slot na flank in die beseerde Johnny Fourie se plek skuif om plek te maak vir Windpomp van Rooyen.

Die Griffons het die reeks skitterend afgeskop, maar met die wedstryde teen die Griekwas, Pumas, Leeus en Bulle wat voorlê sal hulle waarlik getoets word.

Griffons vs. Griekwas: Tertius Maarman; Glen Mafumo, Werner Griesel, Thabang Molefe, Darryl Coeries; Tiaan van Wyk, Henrico Schultz; Nicky Steyn ©, Marnus Briedenhann, Albert Parsons, Leon Grobbelaar, Windpomp van Rooyen, Gert Greyling, Derick van Heerden, Sarel Louw. Reserwes: Graham Heynecke, Kevin Stevens, Sewes Oosthuizen, Earl Daniels, Bronwyn Gysman, Grant Jancke, Donovan Ball.